DIE SENDELING SE MEESTER
“Julle noem My Meester en Here: en julle sê tereg; want Ek is dit.”
Johannes 13:13
Om ’n meester te hê en bemeester te word is nie dieselfde ding nie. Om ’n meester te hê beteken dat daar Iemand is wat my beter ken as wat ek myself ken, Iemand wat nader as ’n vriend is, Iemand wat die verste afgrond van my hart peil en dit bevredig, Iemand wat my in die veilige besef gebring het dat Hy elke verwarring en probleem van my denke ontmoet en opgelos het. Om ’n meester te hê is dít en niks minder nie — "Een is julle Meester, naamlik Christus."
Ons Here dwing gehoorsaamheid nooit af nie; Hy gebruik nie middele om my te laat doen wat Hy wil hê nie. Op sekere tye wens ek God wil my bemeester en my die ding laat doen, maar Hy sal nie; in ander stemmings wens ek Hy wil my met rus laat, maar Hy doen nie.
"Julle noem My Meester en Here" — maar is Hy? Meester en Here het min plek in ons woordeskat, ons verkies die woorde Verlosser, Heiligmaker, Geneser. Die enigste woord wat meesterskap in ervaring beskryf is liefde en ons weet baie min van liefde soos God dit openbaar. Dit word bewys deur die wyse waarop ons die woord gehoorsaam gebruik. In die Bybel is gehoorsaamheid gegrond op die verhouding tussen gelykes, dié van ’n seun met sy vader. Ons Here was nie God se dienaar nie, Hy was Sy Seun. "Hoewel Hy ’n Seun was, het Hy tog gehoorsaamheid geleer . . ." As ons idee is dat ons bemeester word, is dit ’n bewys dat ons geen meester het nie; as dit ons houding teenoor Jesus is, is ons ver weg van die verhouding wat Hy wil hê. Hy wil ons in die verhouding hê waarin Hy maklik Meester is sonder ons bewuste kennis daarvan, al wat ons weet is dat ons Syne is om te gehoorsaam.