GAAN U VOORT OM SAAM MET JESUS TE GAAN?
“Dit is julle wat in My versoekings by My gebly het.”
Lukas 22:28
Dit is waar dat Jesus Christus saam met ons in ons versoekings is, maar gaan ons saam met Hom in Sy versoekings? Baie van ons hou op om saam met Jesus te gaan vanaf die oomblik wanneer ons ’n ervaring het van wat Hy kan doen. Let op wanneer God u omstandighede verskuif, en kyk of u saam met Jesus gaan, of u aan die kant van die wêreld, die vlees en die duiwel skaar. Ons dra Sy kenteken, maar gaan ons saam met Hom? "Van toe af het baie van Sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie."
Die versoekings van Jesus het dwarsdeur Sy aardse lewe voortgeduur, en hulle sal dwarsdeur die lewe van die Seun van God in ons voortduur. Gaan ons saam met Jesus in die lewe wat ons nou leef?
Ons het die idee dat ons onsself behoort te beskerm teen sommige van die dinge wat God rondom ons bring. Nooit! God konstrueer omstandighede van watter aard ook al en ons moet toesien dat ons hulle in die gesig staar terwyl ons voortdurend saam met Hom in Sy versoekings bly. Dit is Sy versoekings, nie versoekings vir ons nie, maar versoekings vir die lewe van die Seun van God in ons. Die eer van Jesus Christus is in u liggaamlike lewe op die spel. Bly u lojaal aan die Seun van God in die dinge wat Sy lewe in u beleër?
Gaan u voort om saam met Jesus te gaan? Die weg lê deur Getsemane, deur die stadspoort, buite die laer; die weg lê alleen, en die weg lê totdat daar geen spoor van ’n voetstap oorbly nie, net die stem, "Volg My."