SY VERSOEKING EN ONS S’N
“Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie aangeraak kan word deur die gevoel van ons swakhede nie; maar Een wat in alle opsigte net soos ons versoek is, tog sonder sonde.”
Hebreërs 4:15
Totdat ons wedergebore is, is die enigste soort versoeking wat ons verstaan dié wat deur die heilige Jakobus genoem word — "Elke mens word versoek, wanneer hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep, en verlok word." Maar deur wedergeboorte word ons in ’n ander ryk opgelig waar daar ander versoekings is om te trotseer, nl., die soort versoekings wat Ons Here getrotseer het. Die versoekings van Jesus spreek ons nie aan nie, hulle het hoegenaamd geen tuiste in ons menslike natuur nie. Ons Here se versoekings en ons s’n beweeg in verskillende sfere totdat ons wedergebore word en Sy broeders word. Die versoekings van Jesus is nie dié van ’n mens nie, maar die versoekings van God as Mens. Deur wedergeboorte word die Seun van God in ons gevorm, en in ons liggaamlike lewe het Hy dieselfde toneel as wat Hy op aarde gehad het. Satan versoek ons nie om verkeerde dinge te doen nie; hy versoek ons om ons te laat verloor wat God deur wedergeboorte in ons geplaas het, nl., die moontlikheid om vir God van waarde te wees. Hy kom nie langs die lyn om ons tot sonde te versoek nie, maar langs die lyn om die standpunt te verskuif, en slegs die Gees van God kan dit as ’n versoeking van die duiwel bespeur.
Versoeking beteken die toetsing deur ’n vreemde mag van die besittings wat deur ’n persoonlikheid gehou word. Dit maak die versoeking van Ons Here verklaarbaar. Nadat Jesus in Sy doop die beroep van die wegdra van die sonde van die wêreld aanvaar het, is Hy onmiddellik deur God se Gees in die toetsmasjien van die duiwel geplaas, maar Hy het nie moeg geword nie, Hy het deur die versoeking gegaan "sonder sonde," en Hy het die besittings van Sy persoonlikheid ongeskonde behou.