WAT IS DIE NUT VAN VERSOEKING?
“Geen versoeking het julle aangegryp behalwe een wat aan die mens algemeen is nie.”
1 Korintiërs 10:13
Die woord "versoeking" het in die wêreld gedaal; ons is geneig om dit verkeerd te gebruik. Versoeking is nie sonde nie, dit is die ding wat ons onvermydelik sal ontmoet as ons mense is. Om nie versoek te word nie sou wees om benede veragting te wees. Baie van ons ly egter onder versoekings waaronder ons niks te soek het nie[1], eenvoudig omdat ons geweier het om God toe te laat om ons na ’n hoër vlak te lig waar ons versoekings van ’n ander aard in die gesig sou staar.
’n Mens se aard aan die binnekant, d.w.s., wat hy in sy persoonlikheid besit, bepaal waardeur hy aan die buitekant versoek word. Die versoeking pas by die natuur van die een wat versoek word, en openbaar die moontlikhede van die natuur. Elke mens het die setting van sy eie versoeking, en die versoeking sal langs die lyn van die heersende aard kom.
Versoeking is ’n voorgestelde kortpad na die realisasie van die hoogste waarop my mikpunt gerig is — nie na wat ek as boosheid verstaan nie, maar na wat ek as goed verstaan. Versoeking is iets wat my ’n wyle heeltemal verbyster, ek weet nie of die ding reg of verkeerd is nie. Versoeking waaraan toegegee word, is vergoddelikte wellus en is ’n bewys dat dit timiditeit was wat die sonde voorheen verhinder het.
Versoeking is nie iets waaraan ons kan ontsnap nie, dit is noodsaaklik vir die volsferiese lewe van ’n mens. Waak daarteen dat u dink dat u versoek word soos niemand anders versoek word nie; dit waardeur u gaan is die gemeenskaplike erfenis van die menslike ras, nie iets waardeur niemand ooit voorheen gegaan het nie. God red ons nie van versoekings nie; Hy staan ons te midde daarvan by (Heb. 2:18).