VERBEELDING VS. INSPIRASIE
“Die eenvoud wat in Christus is.”
2 Korintiërs 11:3
Eenvoud is die geheim daarvan om dinge helder te sien. ’n Heilige dink lank nie helder nie, maar ’n heilige behoort sonder enige moeite helder te sien. U kan ’n geestelike verwarring nie helder dink nie, u moet dit helder gehoorsaam. In intellektuele sake kan u dinge deurdenk, maar in geestelike sake sal u uself in watte indink. As daar iets is waarop God Sy druk geplaas het, gehoorsaam in daardie saak, neem u verbeelding ten opsigte daarvan gevange tot die gehoorsaamheid aan Christus en alles sal so helder soos daglig word. Die redenasievermoë kom daarna, maar ons sien nooit langs daardie lyn nie, ons sien soos kinders; ons sien niks wanneer ons wys probeer wees (Matteus 11:25).
Die nietigste ding wat ons in ons lewe toelaat wat nie onder die beheer van die Heilige Gees is nie is heeltemal voldoende om geestelike verwarring te verklaar, en al die denke wat ons graag daaraan wil bestee sal dit nooit helder maak nie. Geestelike verwarring word slegs deur gehoorsaamheid duidelik gemaak. Sodra ons gehoorsaam, onderskei ons. Dit is vernederend, omdat ons weet wanneer ons verward is dat die rede in die stemming van ons denke lê. Wanneer die natuurlike vermoë om te sien aan die Heilige Gees gewy word, word dit die vermoë om God se wil waar te neem en die hele lewe word in eenvoud bewaar.