WAT OM TE VERSAAK
“Maar ons het die verborge dinge van oneerlikheid versaak.”
2 Korintiërs 4:2
Het u "die verborge dinge van oneerlikheid versaak" — die dinge wat u eergevoel nie sal toelaat om in die lig te kom nie? U kan hulle maklik verberg. Is daar ’n gedagte in u hart oor enigiemand wat u nie in die lig sou wou laat insleep nie? Versaak dit sodra dit opspring; versaak die hele ding totdat daar geen verborge ding van oneerlikheid of listigheid omtrent u is nie. Afguns, jaloesie, twis — hierdie dinge ontstaan nie noodwendig uit die aard van sonde nie, maar uit die samestelling van u liggaam wat in vervloë dae vir hierdie soort ding gebruik is (sien Romeine 6:19 en 1 Petrus 4:1-2). Handhaaf ’n voortdurende waaksaamheid sodat niks waaroor u u sou skaam in u lewe ontstaan nie.
"Nie in listigheid wandel nie," dit wil sê, u toevlug neem tot wat u punt sal laat seëvier. Dit is ’n groot strik. U weet dat God u slegs op een wyse sal laat werk, wees dan versigtig om mense nooit op die ander wyse te vang nie; God se verskroeiing sal oor u wees as u dit doen. Ander doen dinge wat vir u sou beteken om in listigheid te wandel, maar dit is miskien nie met hulle so nie: God het u ’n ander standpunt gegee. Moet nooit die besef van u Uiterste vir Sy Hoogste stomp maak nie. Vir u om ’n bepaalde ding te doen sou die binnekoms van listigheid vir ’n ander doel as die hoogste beteken, en die stompmaak van die beweegrede wat God aan u gegee het. Baie het teruggegaan omdat hulle bang is om dinge vanuit God se standpunt te beskou. Die groot krisis kom geestelik wanneer ’n mens ’n bietjie verder te voorskyn moet kom as die geloofsoortuiging en geloofsbelydenis wat hy aanvaar het.