Daaglikse oordenking

DOEN DIT SELF

Terwyl ons verbeeldings neerwerp en elke hoë ding wat hom teen die kennis van God verhef.

2 Korintiërs 10:5

Bevryding van sonde is nie bevryding van die menslike natuur nie. Daar is dinge in die menslike natuur, soos vooroordele, wat die heilige deur verwaarlosing moet vernietig; en ander dinge wat deur geweld vernietig moet word, d.w.s., deur die Goddelike krag wat deur God se Gees toebedeel word. Daar is sommige dinge waarteen ons nie moet veg nie, maar waarin ons moet stilstaan en die redding van God sien; maar elke teorie of opvatting wat hom as ’n bolwerk teen die kennis van God oprig moet vasbeslote afgebreek word deur uit God se krag te put, nie deur vleeslike inspanning of kompromie nie (v. 4).

Dit is eers wanneer God ons aard verander het en ons die ervaring van heiligmaking binnegegaan het dat die geveg begin. Die oorlogvoering is nie teen sonde nie; ons kan nooit teen sonde veg nie: Jesus Christus handel in die Verlossing met sonde. Die botsing loop langs die lyn van die verandering van ons natuurlike lewe in ’n geestelike lewe, en dit word nooit maklik gedoen nie, en God bedoel ook nie dat dit maklik gedoen moet word nie. Dit word slegs deur ’n reeks morele keuses gedoen. God maak ons nie heilig in die sin van karakter nie; Hy maak ons heilig in die sin van onskuld, en ons moet daardie onskuld deur ’n reeks morele keuses in heilige karakter verander. Hierdie keuses staan voortdurend in teenstelling met die verskansings van ons natuurlike lewe, die dinge wat hulle as bolwerke teen die kennis van God oprig. Ons kan óf teruggaan en onsself van geen belang in die Koninkryk van God maak nie, óf ons kan hierdie dinge vasbeslote afbreek en Jesus nog ’n seun tot heerlikheid laat bring.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in