BRONNE VAN WELDADIGHEID
“Die water wat Ek hom sal gee sal in hom ’n fontein van water wees.”
Johannes 4:14
Die beeld wat Ons Here gee is nie dié van ’n kanaal nie maar van ’n fontein. "Bly vervul word," en die soetheid van die lewenskragtige verhouding tot Jesus sal net so oorvloedig uit die heilige vloei as wat dit aan hom toebedeel word. As u ontdek dat u lewe nie uitvloei soos dit behoort nie, is u te blameer; iets het die vloei belemmer. Bly reg by die Bron, en — sal u persoonlik geseën word? Nee, uit u sal strome lewende water vloei, onbedwingbare lewe.
Ons moet middelpunte wees waardeur Jesus as strome lewende water in seën na elkeen kan vloei. Sommige van ons is soos die Dooie See, neem altyd in maar gee nooit uit nie, omdat ons nie in die regte verhouding tot die Here Jesus staan nie. So seker as wat ons van Hom ontvang, sal Hy deur ons uitgiet, en in die mate waarin Hy nie uitgiet nie, is daar ’n gebrek in ons verhouding tot Hom. Is daar enigiets tussen u en Jesus Christus? Is daar enigiets wat u geloof in Hom verhinder? Indien nie, sê Jesus, sal strome lewende water uit u vloei. Dit is nie ’n seën wat aangegee word nie, nie ’n ervaring wat meegedeel word nie, maar ’n rivier wat voortdurend vloei. Bly by die Bron, bewaak u geloof in Jesus Christus en u verhouding tot Hom goed, en daar sal ’n bestendige vloei vir ander lewens wees, geen droogheid en geen doodsheid nie.
Is dit nie te buitensporig om te sê dat riviere uit ’n individuele gelowige gaan vloei nie? "Ek sien nie die riviere nie," sê u. Moet nooit na uself kyk vanuit die standpunt van — Wie is ek? In die geskiedenis van God se werk sal u byna altyd ontdek dat dit begin het by die onaanzienlikes, die onbekendes, die geïgnoreerdes, maar die standvastig getroues aan Jesus Christus.