Daaglikse oordenking

DIE VERSPREIDENHEID VAN DIE LEWE

Strome lewende water.

Johannes 7:38

’n Rivier raak plekke aan waarvan sy bron niks weet nie, en Jesus sê dat as ons uit Sy volheid ontvang het, hoe klein die sigbare maat van ons lewe ook al is, uit ons die riviere sal vloei wat tot aan die uiterste dele van die aarde sal seën. Ons het niks met die uitvloei te doen nie — "Dit is die werk van God dat julle glo. . . ." God laat ’n siel selde sien hoe groot ’n seën hy is.

’n Rivier is oorwinnend volhardend, dit oorwin alle versperrings. ’n Tyd lank gaan dit bestendig op sy loop voort, dan kom dit by ’n hindernis en word ’n tyd lank gestuit, maar dit maak gou ’n pad om die hindernis. Of ’n rivier sal kilometers lank uit die oog verdwyn, en kort daarna weer breër en grootser as ooit te voorskyn kom. U kan sien hoe God sommige lewens gebruik, maar in u lewe het ’n hindernis gekom en u skyn van geen nut te wees nie. Hou aan om op die Bron ag te gee, en God sal u óf om die hindernis neem óf dit verwyder. Die rivier van die Gees van God oorwin alle hindernisse. Moet nooit u oë op die hindernis of op die moeilikheid vestig nie. Die hindernis maak geen verskil vir die rivier wat bestendig deur u sal vloei as u onthou om reg by die Bron te bly nie. Moet nooit toelaat dat enigiets tussen uself en Jesus Christus kom nie, geen emosie, of ervaring nie; niks mag u van die een groot soewereine Bron weerhou nie.

Dink aan die helende riviere wat ver strek en hulleself in ons siele voed! God het wonderbare waarhede vir ons denke oopgemaak, en elke punt wat Hy oopgemaak het is ’n aanduiding van die groter krag van die rivier wat Hy deur ons sal laat vloei. As u in Jesus glo, sal u ontdek dat God magtige strome van seën vir ander in u gevoed het.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in