Daaglikse oordenking

DIE WATERS VAN BEVREDIGING VERSPREI

Nogtans wou hy daarvan nie drink nie, maar het dit voor die Here uitgegiet.

2 Samuel 23:16

Wat was onlangs vir u soos water uit die put van Betlehem — liefde, vriendskap, geestelike seën? Dan neem u dit op gevaar van u siel, om uself te bevredig. As u dit doen, kan u dit nie voor die Here uitgiet nie. U kan nooit dit waarmee u begeer om uself te bevredig aan God heilig nie. As u uself met ’n seën van God bevredig, sal dit u bederf; u moet dit offer, dit uitgiet, daarmee doen wat gesonde verstand ’n absurde vermorsing noem.

Hoe moet ek natuurlike liefde of geestelike seën voor die Here uitgiet? Op slegs een wyse — in die vasbeslotenheid van my denke. Daar is sekere dade van ander mense wat ’n mens nooit sou kon aanvaar as ’n mens God nie geken het nie, omdat dit nie binne menslike vermoë is om hulle te vergeld nie. Maar sodra ek sê — Dit is te groot en waardig vir my, dit is hoegenaamd nie vir ’n mens bedoel nie, ek moet dit voor die Here uitgiet, dan giet hierdie dinge oral rondom uit in strome lewende water. Totdat ek hierdie dinge wel voor die Here uitgiet, stel hulle dié wat ek liefhet sowel as myself in gevaar omdat hulle in wellus sal verander. Ons kan wellustig wees in dinge wat nie vuil en veragtelik is nie. Liefde moet by sy gedaanteveranderingspunt kom waar dit voor die Here uitgegiet word.

As u bitter en suur geword het, is dit omdat u toe God u ’n seën gegee het dit vir uself vasgegryp het; as u dit daarenteen voor die Here uitgegiet het, sou u die soetste persoon buite die hemel gewees het. As u altyd seëninge vir uself neem en nooit leer om enigiets voor die Here uit te giet nie, word ander mense se horison nie deur u verruim nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in