Daaglikse oordenking

BESTEMMING VAN HEILIGHEID

“Julle moet heilig wees; want Ek is heilig.”

1 Petrus 1:16 (R.V.)

Stel voortdurend opnuut vir uself wat die doel van u lewe is. Die bestemde doeleinde van die mens is nie geluk, nóg gesondheid nie, maar heiligheid. Deesdae het ons veels te veel affiniteite, ons word daardeur verstrooi; regte, goeie, edele affiniteite wat nog hulle vervulling sal hê, maar intussen moet God hulle atrofieer. Die een ding wat saak maak is of ’n mens die God sal aanvaar wat hom heilig sal maak. Ten alle koste moet ’n mens in die regte verhouding tot God staan.

Glo ek dat ek heilig moet wees? Glo ek dat God in my kan kom en my heilig kan maak? As u my deur u prediking oortuig dat ek onheilig is, vererg[1] ek my oor u prediking. Die prediking van die Evangelie wek intense ergernis[1] omdat dit moet openbaar dat ek onheilig is; maar dit wek ook ’n intense hunkering. God het een bestemde doeleinde vir die mensdom, nl. heiligheid. Sy een mikpunt is die voortbrenging van heiliges. God is nie ’n ewige seënmasjien vir mense nie; Hy het nie uit medelye gekom om mense te red nie: Hy het gekom om mense te red omdat Hy hulle geskep het om heilig te wees. Die Versoening beteken dat God my in volmaakte eenheid met Homself kan terugplaas, sonder ’n skaduwee tussenin, deur die Dood van Jesus Christus.

Moet nooit deur simpatie met uself of met ander enige praktyk duld wat nie met ’n heilige God strook nie. Heiligheid beteken onbesoedelde wandel met die voete, onbesoedelde spreke met die tong, onbevlekte denke met die verstand — elke besonderheid van die lewe onder die noulettende ondersoek van God. Heiligheid is nie alleen wat God my gee nie, maar wat ek manifesteer dat God my gegee het.

← Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in