MY VREUGDE . . . JULLE VREUGDE
“Sodat My vreugde in julle kan bly, en julle vreugde volkome kan wees.”
Johannes 15:11
Wat was die vreugde wat Jesus gehad het? Dit is ’n belediging om die woord geluk in verband met Jesus Christus te gebruik. Die vreugde van Jesus was die absolute selfoorgawe en selfopoffering van Homself aan Sy Vader, die vreugde om dít te doen wat die Vader Hom gestuur het om te doen. "Ek verlustig My daarin om U wil te doen." Jesus het gebid dat ons vreugde homself voortdurend sou vervul totdat dit dieselfde vreugde as Syne was. Het ek Jesus Christus toegelaat om Sy vreugde aan my bekend te stel?
Die volle vloed van my lewe lê nie in liggaamlike gesondheid nie, nie in uiterlike gebeurtenisse nie, nie daarin om God se werk te sien slaag nie, maar in die volmaakte begrip van God, en in die gemeenskap met Hom wat Jesus Self gehad het. Die eerste ding wat hierdie vreugde sal verhinder is die foutsoekende irritasie daarvan om omstandighede te deurdink. Die sorge van hierdie wêreld, het Jesus gesê, sal God se Woord verstik. Voordat ons weet waar ons is, word ons in die skyn van dinge vasgevang. Alles wat God vir ons gedoen het is bloot die drumpel; Hy wil ons by die plek bring waar ons Sy getuies sal wees en verkondig Wie Jesus is.
Staan in die regte verhouding tot God, vind u vreugde daar, en uit u sal strome lewende water vloei. Wees ’n middelpunt waardeur Jesus Christus lewende water kan giet. Hou op om selfbewus te wees, hou op om ’n geheiligde pedant te wees, en leef die lewe wat met Christus verborge is. Die lewe wat in die regte verhouding tot God staan is oral waar dit gaan so natuurlik soos asemhaal. Die lewens wat vir u die grootste seën was is dié wat onbewus daarvan was.