VERHEWE INTIMITEIT
“Het Ek nie vir jou gesê, dat, as jy sou glo, jy die heerlikheid van God sou sien nie?”
Johannes 11:40
Elke keer wanneer u u in die geloofslewe uitwaag, sal u iets in u omstandighede van gesonde verstand vind wat u geloof lynreg weerspreek. Gesonde verstand is nie geloof nie, en geloof is nie gesonde verstand nie; hulle staan in die verhouding van die natuurlike en die geestelike. Kan u Jesus Christus vertrou waar u gesonde verstand Hom nie kan vertrou nie? Kan u u heldhaftig op Jesus Christus se uitsprake waag wanneer die feite van u gesonde-verstandslewe skreeu — "Dit is ’n leuen?" Op die berg is dit maklik om te sê — 'O, ja, ek glo God kan dit doen'; maar u moet afkom tot in die duiwelbesete vallei en feite ontmoet wat die geheel van u berg-van-gedaanteveranderingsgeloof ironies uitlag. Elke keer wanneer my geloofsprogram vir my eie denke duidelik is, loop ek iets raak wat dit weerspreek. Laat ek sê dat ek glo God sal in al my behoeftes voorsien, en laat ek dan droogloop, sonder enige uitsig, en sien of ek die beproewing van geloof sal deurstaan, of ek na iets laers sal terugsink.
Geloof moet getoets word, omdat dit slegs deur botsing in ’n persoonlike besitting verander kan word. Waarteen staan u geloof juis nou? Die toets sal óf bewys dat u geloof reg is, óf dit sal dit doodmaak. "Salig is elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie." Die laaste ding is vertroue in Jesus. Glo standvastig op Hom en alles waarteen u te staan kom sal u geloof ontwikkel. Daar is voortdurende toetsing in die geloofslewe, en die laaste groot toets is die dood. Mag God ons veggereed hou! Geloof is onuitspreeklike vertroue in God, vertroue wat nooit droom dat Hy ons nie sal bystaan nie.