WAT IS DIE NUT VAN GEBED?
“Here, leer ons bid.”
Lukas 11:1
Dit is nie deel van die lewe van ’n natuurlike mens om te bid nie. Ons hoor dat daar gesê word dat ’n mens in sy lewe sal ly as hy nie bid nie; ek bevraagteken dit. Wat sal ly, is die lewe van die Seun van God in hom, wat nie deur voedsel nie maar deur gebed gevoed word. Wanneer ’n mens van bo gebore word, word die lewe van die Seun van God in hom gebore, en hy kan daardie lewe óf uithonger óf voed. Gebed is die wyse waarop die lewe van God gevoed word. Ons gewone beskouings van gebed word nie in die Nuwe Testament aangetref nie. Ons beskou gebed as ’n middel om dinge vir onsself te kry; die Bybelse idee van gebed is dat ons God Self kan leer ken.
"Vra en julle sal ontvang." Ons mor voor God, ons is verskonend of apaties, maar ons vra baie min dinge. En tog wat ’n heerlike vermetelheid het ’n kinderlike kind nie! Ons Here sê — "As julle nie soos kindertjies word nie." Vra, en God sal doen. Gee Jesus Christus ’n kans, gee Hom beweegruimte, en geen mens sal dit ooit doen tensy hy raadop is[1] nie. Wanneer ’n mens raadop is, is dit nie ’n lafhartige ding om te bid nie; dit is die enigste wyse waarop hy met die Werklikheid in aanraking kan kom. Wees uself voor God en lê u probleme [aan Hom] voor, die dinge waaroor u weet dat u raadop geraak het. Solank u selfgenoegsaam is, hoef u God niks te vra nie.
Dit is nie so waar dat “gebed dinge verander” as dat gebed my verander en ek dinge verander nie. God het die dinge so saamgestel dat gebed op basis van die Verlossing die wyse verander waarop ’n mens na dinge kyk. Gebed is nie ’n kwessie daarvan om dinge uitwendig te verander nie, maar daarvan om wonders in die aard van ’n mens te werk.