Daaglikse oordenking

TEOLOGIE LEWEND

Wandel terwyl julle die lig het sodat die duisternis julle nie oorval nie.

Johannes 12:35

Waak daarteen om nie te handel volgens wat u in u oomblikke op die berg met God sien nie. As u nie die lig gehoorsaam nie, sal dit in duisternis verander. "As die lig wat in u is dan duisternis is, hoe groot is die duisternis nie!" Die oomblik wanneer u die vraag oor heiligmaking of enige ander ding waaroor God u lig gegee het opsy skuif, begin u droogrot in u geestelike lewe kry. Bring die waarheid voortdurend na buite tot in die daadwerklikheid; werk dit op elke gebied uit, anders sal juis die lig wat u het ’n vloek blyk te wees.

Die moeilikste persoon om mee te handel is die een wat die selfvoldane bevrediging het van ’n ervaring waarna hy kan terugverwys, maar wat dit nie in die praktiese lewe uitwerk nie. As u sê dat u geheilig is, toon dit. Die ervaring moet so eg wees dat dit in die lewe getoon word. Waak teen enige geloof wat u selftoegewend maak; dit het uit die put gekom, hoe pragtig dit ook al klink.

Teologie moet homself in die mees praktiese verhoudings uitwerk. "As julle geregtigheid nie die geregtigheid van die skrifgeleerdes en Fariseërs oortref nie . . ." het Ons Here gesê, d.w.s., u moet moreler wees as die mees morele wese wat u ken. U weet miskien alles van die leer van heiligmaking, maar laat u dit uitloop tot in die praktiese aangeleenthede van u lewe? Elke deeltjie van u lewe, liggaamlik, moreel en geestelik, moet volgens die maatstaf van die Versoening beoordeel word.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in