WORD U OOIT VERSTEUR?
“Vrede laat Ek vir julle na, My vrede gee Ek aan julle.”
Johannes 14:27
Daar is tye wanneer ons vrede op onkunde gegrond is, maar wanneer ons vir die feite van die lewe ontwaak, is innerlike vrede onmoontlik tensy dit van Jesus ontvang word. Wanneer Ons Here vrede spreek, maak Hy vrede, Sy woorde is altyd "gees en lewe." Het ek ooit ontvang wat Jesus spreek? "My vrede gee Ek aan julle" — dit is ’n vrede wat daaruit kom dat ons in Sy gesig kyk en Sy onverstoordheid besef.
Is u juis nou pynlik versteur, afgelei deur die golwe en deinings van God se voorsienige toelating, en nadat u, as ’t ware, die rotsblokke van u geloof omgedraai het, vind u steeds geen put van vrede of vreugde of troos nie; is alles dor? Kyk dan op en ontvang die onverstoordheid van die Here Jesus. Weerkaatste vrede is die bewys dat u reg met God is omdat u vry is om u denke na Hom te keer. As u nie reg met God is nie, kan u u denke nooit op enigiets anders as uself rig nie. As u enigiets toelaat om die gesig van Jesus Christus vir u te verberg, is u óf versteur óf u het ’n valse sekerheid.
Kyk u nou na Jesus in die onmiddellike saak wat druk, en ontvang u vrede van Hom? Indien wel, sal Hy in en deur u ’n genadige seën van vrede wees. Maar as u dit deur bekommernis probeer uitwerk, wis u Hom uit en verdien u alles wat u kry. Ons word versteur omdat ons Hom nie beskou het nie. Die verwarring verdwyn wanneer ’n mens met Jesus Christus beraadslaag, omdat Hy geen verwarring het nie, en ons enigste sorg is om in Hom te bly. Lê dit alles voor Hom uit, en hoor Hom in die aangesig van moeilikheid, verlies en smart, sê, "Laat u hart nie ontsteld word nie."