Daaglikse oordenking

DIE BEDIENING VAN DIE ONOPGEMERKTE

Salig is die armes van gees.

Matteus 5:3

Die Nuwe Testament merk dinge op wat volgens ons maatstawwe skynbaar nie tel nie. "Salig is die armes van gees," letterlik — Salig is die berooides — ’n uitermate alledaagse ding! Die prediking van vandag is geneig om nadruk te lê op wilskrag, skoonheid van karakter — die dinge wat maklik opgemerk word. Die frase wat ons so dikwels hoor, Besluit vir Christus, lê nadruk op iets wat Ons Here nooit vertrou het nie. Hy vra ons nooit om vir Hom te besluit nie, maar om ons aan Hom te onderwerp — iets heel anders. Aan die grondslag van Jesus Christus se Koninkryk is die ongekunstelde lieflikheid van die alledaagse. Die ding waarin ek geseën is is my armoede. As ek weet dat ek geen wilskrag, geen edelheid van aard het nie, dan sê Jesus — Salig is u, omdat dit deur hierdie armoede is dat ek Sy Koninkryk binnegaan. Ek kan nie as ’n goeie man of vrou Sy Koninkryk binnegaan nie, ek kan dit slegs as ’n volkome berooide binnegaan.

Die ware karakter van die lieflikheid wat vir God tel is altyd onbewus. Bewuste invloed is pedanties en onchristelik. As ek sê — Ek wonder of ek enigsins van nut is — verloor ek onmiddellik die bloei van die aanraking van die Here. "Hy wat in My glo, uit hom sal strome lewende water vloei." As ek die uitvloei ondersoek, verloor ek die aanraking van die Here.

Wie is die mense wat ons die meeste beïnvloed het? Nie dié wat gedink het dat hulle dit doen nie, maar dié wat nie die vaagste begrip gehad het dat hulle ons beïnvloed nie. In die Christelike lewe is die implisiete nooit bewus nie, as dit bewus is hou dit op om hierdie ongekunstelde lieflikheid te hê wat die kenmerk van die aanraking van Jesus is. Ons weet altyd wanneer Jesus aan die werk is omdat Hy in die alledaagse iets voortbring wat inspireer.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in