SELFBEWUSTHEID
“Kom na My toe.”
Matteus 11:28
God bedoel dat ons ’n volsferiese lewe in Christus Jesus moet leef, maar daar is tye wanneer daardie lewe van buite aangeval word, en ons in ’n wyse van selfondersoek intuimel waarvan ons gedink het dit het verdwyn. Selfbewustheid is die eerste ding wat die volledigheid van die lewe in God sal versteur, en selfbewustheid bring voortdurend worsteling voort. Selfbewustheid is nie sonde nie; dit kan deur ’n senuweeagtige temperament of deur ’n skielike neerkwak in nuwe omstandighede voortgebring word. Dit is nooit God se wil dat ons enigiets minder as absoluut volkome in Hom sal wees nie. Enigiets wat rus in Hom versteur moet onmiddellik genees word, en dit word nie genees deur dit te ignoreer nie, maar deur na Jesus Christus te kom. As ons na Hom kom en Hom vra om Christusbewustheid voort te bring, sal Hy dit altyd doen totdat ons leer om in Hom te bly.
Moet nooit toelaat dat die opdeling van u lewe in Christus voortduur sonder dat u dit in die gesig staar nie. Waak teen lekkasie, teen die opdeling van u lewe deur die invloed van vriende of omstandighede; waak teen enigiets wat u eenheid met Hom gaan opsplits en u uself afsonderlik sal laat sien. Niks is so belangrik as om geestelik reg te bly nie. Die groot oplossing is die eenvoudige een — "Kom na My toe." Die diepte van ons werklikheid, intellektueel, moreel en geestelik, word deur hierdie woorde getoets. In elke mate waarin ons nie werklik is nie, sal ons redetwis eerder as om te kom.