Daaglikse oordenking

WAS U OOIT UITDRUKKINGSLOOS VAN VERDRIET?

En toe hy dit hoor, was hy baie bedroef: want hy was baie ryk.

Lukas 18:23

Die ryk jong owerste het uitdrukkingsloos van verdriet weggegaan; hy het nie ’n woord gehad om te sê nie. Hy het geen twyfel gehad oor wat Jesus gesê het nie, geen debat oor wat dit beteken het nie, en dit het in hom ’n verdriet voortgebring wat geen woorde gehad het nie. Was u ooit daar? Het God se woord na u gekom oor iets waarin u baie ryk is — temperament, persoonlike verwantskap, verhoudings van hart en denke? Dan was u dikwels uitdrukkingsloos van verdriet. Die Here sal u nie agternagaan nie, Hy sal nie pleit nie, maar elke keer wanneer Hy u op daardie punt ontmoet sal Hy eenvoudig herhaal — As u bedoel wat u sê, is dít die voorwaardes.

"Verkoop alles wat u het," ontklee uself moreel voor God van alles wat ’n besitting kan wees totdat u bloot ’n bewuste mens is, en gee dit dan aan God. Dit is waar die geveg gevoer word — op die terrein van die wil voor God. Is u meer toegewy aan u idee van wat Jesus wil hê as aan Homself? Indien wel, sal u waarskynlik een van Sy harde uitsprake hoor wat verdriet in u sal voortbring. Wat Jesus sê is hard, dit is slegs maklik wanneer dit gehoor word deur dié wat Sy aard het. Waak daarteen om enigiets toe te laat om ’n harde woord van Jesus Christus te versag.

Ek kan so ryk in armoede wees, so ryk in die bewussyn dat ek niemand is nie, dat ek nooit ’n dissipel van Jesus sal wees nie; en ek kan so ryk in die bewussyn wees dat ek iemand is dat ek nooit ’n dissipel sal wees nie. Is ek gewillig om berooid te wees van die besef dat ek berooid is? Dit is waar ontmoediging inkom. Ontmoediging is ontnugterde selfliefde, en selfliefde kan liefde vir my toewyding aan Jesus wees.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in