Daaglikse oordenking

IS U ONTMOEDIG IN TOEWYDING?

Nog een ding ontbreek u; verkoop alles wat u het . . en kom, volg My.

Lukas 18:22

"En toe hy dit hoor . . ." Het u ooit die Meester ’n harde woord hoor sê? Indien nie, betwyfel ek of u Hom enigiets hoor sê het. Jesus Christus sê baie dinge waarna ons luister, maar wat ons nie hoor nie; wanneer ons wel hoor, is Sy woorde verbasend hard.

Jesus het nie in die minste besorg gelyk dat hierdie man moes doen wat Hy hom gesê het nie, Hy het geen poging aangewend om hom by Hom te hou nie. Hy het eenvoudig gesê — Verkoop alles wat u het, en kom, volg My. Ons Here het nooit gepleit nie, Hy het nooit met mooipraatjies oorgehaal nie, Hy het nooit verstrik nie; Hy het eenvoudig die strengste woorde gespreek waarna sterflike ore ooit geluister het, en dit toe daar gelaat.

Het ek Jesus ooit ’n harde woord hoor sê? Het Hy iets persoonlik vir my gesê waarna ek doelbewus geluister het? Nie iets wat ek kan uitlê of waaroor ek dit en dat kan sê nie, maar iets wat ek Hom vir my hoor sê het? Hierdie man het verstaan wat Jesus gesê het, hy het dit gehoor en die omvang van die betekenis daarvan bepaal, en dit het sy hart gebreek. Hy het nie uitdagend weggegaan nie; hy het bedroef weggegaan, deeglik ontmoedig. Hy het vol van die vuur van ernstige begeerte na Jesus gekom, en die woord van Jesus het hom eenvoudig bevries; in plaas daarvan om ’n geesdriftige toewyding voort te bring, het dit hartverskeurende ontmoediging voortgebring. En Jesus het hom nie agternagegaan nie, Hy het hom laat gaan. Ons Here weet volkome dat wanneer Sy woord eenmaal gehoor is, dit vroeër of later vrug sal dra. Die verskriklike ding is dat sommige van ons verhinder dat dit in die daadwerklike lewe vrug dra. Ek wonder wat ons sal sê wanneer ons wel besluit om op daardie bepaalde punt aan Hom toegewy te wees? Een ding is seker, Hy sal ons nooit enigiets verwyt nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in