TEKENS VAN DIE NUWE GEBOORTE
“Julle moet wedergebore word.”
Johannes 3:7
Die antwoord op die vraag "Hoe kan ’n mens gebore word wanneer hy oud is?" is — Wanneer hy oud genoeg is om te sterf — om heeltemal uit te sterf aan sy "lomperagte," aan sy deugde, aan sy godsdiens, aan alles, en om die lewe wat nooit tevore daar was nie in homself te ontvang. Die nuwe lewe openbaar hom in bewuste inkeer en onbewuste heiligheid.
"Almal wat Hom aangeneem het." (Johannes 1:12.) Is my kennis van Jesus uit innerlike geestelike waarneming gebore, of is dit slegs wat ek geleer het deur na ander te luister? Het ek iets in my lewe wat my met die Here Jesus as my persoonlike Verlosser verbind? Alle geestelike geskiedenis moet persoonlike kennis as sy rotsbodem hê. Om wedergebore te wees beteken dat ek Jesus sien.
"As iemand nie wedergebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." (Johannes 3:3.) Soek ek na tekens van die Koninkryk, of neem ek God se heerskappy waar? Die nuwe geboorte gee ’n nuwe vermoë om te sien waardeur ek God se heerskappy begin onderskei. Sy heerskappy was die hele tyd daar, maar getrou aan Sy natuur; ek kan noudat ek Sy natuur ontvang het Sy heerskappy sien.
"Elkeen wat uit God gebore is bedryf geen sonde nie." (1 Johannes 3:9.) Probeer ek ophou sondig of het ek opgehou sondig? Om uit God gebore te wees beteken dat ek die bonatuurlike krag van God het om op te hou sondig. In die Bybel kom hierdie vraag nooit voor nie — Behoort ’n Christen te sondig? Die Bybel stel dit nadruklik — ’n Christen moet nie sondig nie. Die doeltreffende werking van die lewe van die nuwe geboorte in ons is dat ons geen sonde bedryf nie, nie bloot dat ons die mag het om nie te sondig nie, maar dat ons opgehou het om te sondig. 1 Johannes 3:9 beteken nie dat ons nie kan sondig nie; dit beteken dat as ons die lewe van God in ons gehoorsaam, ons nie hoef te sondig nie.