TUGTIGING
“Moenie die tugtiging van die Here verag nie, en moenie beswyk wanneer u deur Hom bestraf word nie.”
Hebreërs 12:5
Dit is baie maklik om die Gees te blus; ons doen dit deur die tugtiging van die Here te verag, deur te beswyk wanneer Hy ons bestraf. As ons slegs ’n vlak ervaring van heiligmaking het, hou ons die skaduwee vir die werklikheid, en wanneer die Gees van God begin stuit, sê ons — O, dit moet die duiwel wees.
Moet nooit die Gees blus nie, en moet Hom nie verag wanneer Hy vir u sê — "Moenie langer blind wees op hierdie punt nie; u is nie waar u gedink het u was nie. Tot dusver kon Ek dit nie aan u openbaar nie, maar Ek openbaar dit nou." Wanneer die Here u só tugtig, laat Hom Sy sin kry. Laat Hom u in die regte verhouding tot God bring.
"En beswyk nie wanneer u deur Hom bestraf word nie." Ons raak nukkerig teenoor God en sê — "Nou, ja, ek kan dit nie help nie; ek hét gebid en dinge het nie reg uitgewerk nie, en ek gaan dit alles prysgee." Dink wat sou gebeur as ons op enige ander gebied van die lewe so sou praat!
Is ek bereid om God toe te laat om my deur Sy krag vas te gryp en ’n werk in my te doen wat Homself waardig is? Heiligmaking is nie my idee van wat ek wil hê God vir my moet doen nie; heiligmaking is God se idee van wat Hy vir my wil doen, en Hy moet my in die houding van denke en gees kry waarin ek Hom ten alle koste sal toelaat om my geheel en al te heilig.