MOENIE DIE GEES BLUS NIE
“Moenie die Gees blus nie.”
1 Tessalonisense 5:19
Die stem van die Gees is so sag soos ’n sefir, so sag dat u dit nooit hoor nie, tensy u in volmaakte gemeenskap met God leef. Die stuitings van die Gees kom op die buitengewoonste sagte wyses, en u sal dit blus as u nie gevoelig genoeg is om Sy stem te bespeur nie, en u persoonlike geestelike lewe sal benadeel word. Sy stuitings kom altyd as ’n stille sagte stem, so sag dat niemand behalwe die heilige hulle opmerk nie.
Waak daarteen as u in persoonlike getuienis moet teruggryp en sê — "Eens, soveel jare gelede, is ek gered." As u in die lig wandel, is daar geen teruggryp nie, die verlede word in die huidige wonder van gemeenskap met God deurgiet. As u uit die lig raak word u ’n sentimentele Christen en leef u op herinneringe, u getuienis het ’n harde, metaalklank. Waak daarteen om ’n huidige weiering om in die lig te wandel te probeer oplap deur vorige ervarings in herinnering te roep toe u wel in die lig gewandel het. Wanneer die Gees ook al stuit, roep halt en stel die ding reg, anders sal u voortgaan om Hom te bedroef sonder dat u dit weet.
Veronderstel God het u tot by ’n krisis gebring en u gaan byna daardeur maar nie heeltemal nie, Hy sal die krisis weer konstrueer, maar dit sal nie so skerp wees soos voorheen nie. Daar sal minder onderskeiding van God wees en meer vernedering omdat u nie gehoorsaam het nie; en as u voortgaan om die Gees te bedroef, sal daar ’n tyd kom wanneer daardie krisis nie herhaal kan word nie, u het Hom wegbedroef. Maar as u deur die krisis gaan, sal daar ’n loflied tot God wees. Moet nooit simpatiseer met die ding wat God voortdurend steek nie. God moet die ding wat moet gaan seermaak.