DIE TEOLOGIE VAN RUS
“Waarom is julle bevrees, o kleingelowiges?”
Matteus 8:26
Ons kan niks minder doen as om tot God te bid wanneer ons bevrees is nie, maar Ons Here het die reg om te verwag dat dié wat Sy Naam noem ’n begrypende vertroue in Hom sal hê. God verwag dat Sy kinders so vol vertroue in Hom sal wees dat hulle in enige krisis die betroubares is. Ons vertroue is tot op ’n bepaalde punt in God, dan keer ons terug na die elementêre paniekgebede van dié wat God nie ken nie. Ons kom aan die einde van ons vernuf, wat toon dat ons nie die geringste vertroue in Hom en Sy regering van die wêreld het nie; Hy skyn te slaap, en ons sien niks behalwe branders voor ons nie.
"O kleingelowiges!" Wat ’n pynsteek moes deur die dissipels geskiet het — 'Dit weer gemis!' En wat ’n pynsteek sal deur ons gaan wanneer ons skielik besef dat ons opregte vreugde in die hart van Jesus kon voortgebring het deur volkome vol vertroue in Hom te bly, ongeag wat voorgelê het.
Daar is stadiums in die lewe wanneer daar geen storm, geen krisis is nie, wanneer ons ons menslike bes doen; dit is wanneer ’n krisis ontstaan dat ons onmiddellik openbaar op wie ons vertrou. As ons geleer het om God te aanbid en Hom te vertrou, sal die krisis openbaar dat ons tot by die breekpunt sal gaan en nie in ons vertroue in Hom sal breek nie.
Ons het baie oor heiligmaking gepraat — waarop gaan dit alles uitloop? Dit behoort uit te werk tot rus in God wat eenheid met God beteken, ’n eenheid wat ons nie slegs onberispelik in Sy oë sal maak nie, maar ’n diepe vreugde vir Hom.