Daaglikse oordenking

GEBED IN DIE VADER SE GEHOOR

Vader, Ek dank U dat U My gehoor het.

Johannes 11:41

Wanneer die Seun van God bid, het Hy slegs een bewussyn, en daardie bewussyn is van Sy Vader. God hoor altyd die gebede van Sy Seun, en die Vader sal altyd my gebede hoor as die Seun van God in my gevorm is. Ek moet toesien dat die Seun van God in my sterflike vlees geopenbaar word. "Julle liggaam is die tempel van die Heilige Gees," d.w.s., die Betlehem van die Seun van God. Kry die Seun van God Sy geleentheid in my? Word die direkte eenvoud van die lewe van God se Seun presies uitgewerk soos dit in Sy historiese lewe uitgewerk is? Wanneer ek as ’n gewone mens met die gebeurtenisse van die lewe in aanraking kom, word die gebed van God se Ewige Seun tot Sy Vader in my gebid? "In daardie dag sal julle in My Naam vra. . . ." Watter dag? Die dag wanneer die Heilige Gees na my gekom en my effektief een met my Here gemaak het.

Word die Here Jesus Christus oorvloedig bevredig in u lewe of het u ’n geestelike pronkhouding aangeneem? Moet nooit toelaat dat gesonde verstand indring en die Seun van God opsy stoot nie. Gesonde verstand is ’n gawe wat God aan die menslike natuur gegee het; maar gesonde verstand is nie die gawe van Sy Seun nie. Bonatuurlike verstand is die gawe van Sy Seun; moet nooit gesonde verstand op die troon plaas nie. Die Seun bespeur die Vader; gesonde verstand het die Vader nog nooit bespeur nie en sal ook nooit. Ons gewone vernuf aanbid God nooit tensy dit deur die inwonende Seun van God van gedaante verander word nie. Ons moet toesien dat hierdie sterflike vlees in volmaakte onderwerping aan Hom gehou word en dat Hy oomblik vir oomblik daardeur werk. Leef ons in so ’n menslike afhanklikheid van Jesus Christus dat Sy lewe oomblik vir oomblik geopenbaar word?

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in