DIE SAKRAMENT VAN DIE HEILIGE
“Laat dié wat volgens die wil van God ly, die bewaring van hulle siele in goed-doen aan Hom toevertrou.”
1 Petrus 4:19
Om te kies om te ly beteken dat daar iets verkeerd is; om God se Wil te kies selfs as dit lyding beteken is iets heel anders. Geen gesonde heilige kies ooit lyding nie; hy kies God se wil, soos Jesus gedoen het, of dit lyding beteken of nie. Geen heilige durf inmeng met die dissipline van lyding in ’n ander heilige nie.
Die heilige wat die hart van Jesus bevredig sal ander heiliges sterk en volwasse vir God maak. Die mense wat aan ons goed doen is nooit dié wat met ons simpatiseer nie, hulle verhinder altyd, omdat simpatie verswak. Niemand verstaan ’n heilige behalwe die heilige wat die naaste aan die Verlosser is nie. As ons die simpatie van ’n heilige aanvaar, is die refleksgevoel — Nou ja, God handel hard met my. Daarom het Jesus gesê selfbejammering was van die duiwel (sien Matt. 16:23). Wees barmhartig teenoor God se reputasie. Dit is maklik om God se karakter swart te smeer omdat God nooit terugantwoord nie, Hy regverdig Homself nooit. Waak teen die gedagte dat Jesus simpatie in Sy aardse lewe nodig gehad het; Hy het simpatie van die mens geweier omdat Hy veels te wys geweet het dat niemand op aarde verstaan het wat Hy in die oog gehad het nie. Hy het slegs simpatie van Sy Vader, en van die engele in die hemel gevat. (Vgl. Lukas 15:10.)
Let op God se onuitspreeklike vermorsing van heiliges, volgens die oordeel van die wêreld. God plant Sy heiliges op die nutteloosste plekke. Ons sê — God bedoel dat ek hier moet wees omdat ek so nuttig is. Jesus het Sy lewe nooit volgens die lyn van die grootste nut geskat nie. God plaas Sy heiliges waar hulle Hom sal verheerlik, en ons is hoegenaamd geen beoordelaars van waar dit is nie.