DIE KRUIS IN GEBED
“In daardie dag sal julle in My Naam vra.”
Johannes 16:26
Ons is alte geneig om aan die Kruis te dink as iets waardeur ons moet kom; ons kom slegs deur dit om daarin te kom. Die Kruis staan vir ons vir slegs een ding — ’n volledige en algehele en absolute vereenselwiging met die Here Jesus Christus, en daar is niks waarin hierdie vereenselwiging meer gerealiseer word as in gebed nie.
"Julle Vader weet watter dinge julle nodig het, voordat julle Hom vra." Waarom dan vra? Die idee van gebed is nie om antwoorde van God te kry nie; gebed is volmaakte en volledige eenheid met God. As ons bid omdat ons antwoorde wil hê, sal ons gepikeerd raak teenoor God. Die antwoorde kom elke keer, maar nie altyd op die wyse wat ons verwag nie, en ons geestelike gepikeerdheid[1] toon ’n weiering om ons in gebed te identifiseer met Ons Here. Ons is nie hier om te bewys dat God gebed beantwoord nie; ons is hier om lewende gedenktekens van God se genade te wees.
"Ek sê nie dat Ek die Vader vir julle sal bid nie: want die Vader Self het julle lief." Het u so ’n intimiteit met God bereik dat die gebedslewe van die Here Jesus Christus die enigste verklaring van u gebedslewe is? Het Ons Here se plaasvervangende lewe u lewenskragtige lewe geword? "In daardie dag" sal u so met Jesus vereenselwig wees dat daar geen onderskeid sal wees nie.
Wanneer gebed onbeantwoord skyn te wees, moet u oppas om die skuld op iemand anders te probeer vaspen. Dit is altyd ’n strik van Satan. U sal ontdek dat daar ’n rede is wat ’n diep onderrig vir u is, nie vir iemand anders nie.