DIE VERBYSTERENDE ROEP VAN GOD
“En alles wat deur die profete aangaande die Seun van die mens geskryf is sal vervul word . . . En hulle het niks van hierdie dinge verstaan nie.”
Lukas 18:31, 34
God het Jesus Christus geroep tot wat na volslae rampspoed gelyk het. Jesus Christus het Sy dissipels geroep om te sien hoe Hy doodgemaak word; Hy het elkeen van hulle gelei na die plek waar hulle harte gebreek is. Jesus Christus se lewe was vanuit elke standpunt behalwe God s’n ’n absolute mislukking. Maar wat vanuit die mens se standpunt na mislukking gelyk het was vanuit God s’n ’n geweldige triomf, omdat God se doel nooit die mens se doel is nie.
Die verbysterende roep van God kom ook in ons lewe. Die roep van God kan nooit uitdruklik gestel word nie; dit is implisiet. Die roep van God is soos die roep van die see, niemand hoor dit behalwe die een wat die natuur van die see in hom het nie. Daar kan nie definitief gestel word waartoe die roep van God is nie, omdat Sy roep is om in kameraadskap met Homself te wees vir Sy eie doelstellings, en die toets is om te glo dat God weet wat Hy op die oog het. Die dinge wat gebeur gebeur nie toevallig nie, hulle gebeur geheel en al binne die raadsbesluit van God. God werk Sy doelstellings uit.
As ons in gemeenskap met God is en erken dat Hy ons in Sy doelstellings inneem, sal ons nie langer probeer uitvind wat Sy doelstellings is nie. Namate ons in die Christelike lewe voortgaan word dit eenvoudiger, omdat ons minder geneig is om te sê — Waarom het God nou dit en dat toegelaat? Agter die hele ding lê die dwinging van God. "Daar is ’n goddelikheid wat ons eindes vorm." ’n Christen is iemand wat die vernuf en die wysheid van God vertrou, en nie sy eie vernuf nie. As ons ’n eie doel het, vernietig dit die eenvoud en onhaastigheid wat die kinders van God behoort te kenmerk.