Daaglikse oordenking

DIE DAPPERE KAMERAADSKAP VAN GOD

Toe het Hy die twaalf na Hom geneem.

Lukas 18:31

Die dapperheid van God om ons te vertrou! U sê — "Maar Hy was onwys om my te kies, want daar is niks in my nie; ek is van geen waarde nie." Dit is waarom Hy u gekies het. Solank u dink dat daar iets in u is, kan Hy u nie kies nie omdat u eie oogmerke het om te dien; maar Hy kan u kies om saam met Hom na Jerusalem te gaan nadat u Hom toegelaat het om u aan die einde van u selfgenoegsaamheid te bring, en dit sal die vervulling beteken van doelstellings wat Hy nie met u bespreek nie.

Ons is geneig om te sê dat omdat ’n mens natuurlike vermoë het, hy daarom ’n goeie Christen sal wees. Dit gaan nie om ons toerusting nie maar om ons armoede, nie om wat ons saambring nie, maar om wat God in ons plaas; nie om natuurlike deugde van karaktersterkte, kennis, en ervaring nie — dit alles baat in hierdie saak niks nie. Die enigste ding wat baat is dat ons in die groot dwinging van God opgeneem en Sy kamerade gemaak word (vgl. 1 Kor. 1:26-30). Die kameraadskap van God word saamgestel uit mense wat hulle armoede ken. Hy kan niks doen met die mens wat dink dat hy vir God van nut is nie. As Christene is ons hoegenaamd nie daarop uit vir ons eie saak nie, ons is daarop uit vir die saak van God, wat nooit ons saak kan wees nie. Ons weet nie wat God op die oog het nie, maar ons moet ons verhouding met Hom handhaaf wat ook al gebeur. Ons moet nooit toelaat dat enigiets ons verhouding met God beskadig nie; as dit wel beskadig word moet ons tyd neem en dit laat regstel. Die hoofsaak van die Christendom is nie die werk wat ons doen nie, maar die verhouding wat ons handhaaf en die atmosfeer wat deur daardie verhouding voortgebring word. Dit is al waarna God ons vra om om te sien, en dit is die een ding wat voortdurend aangeval word.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in