WAT SIEN U IN U WOLKE?
“Kyk, Hy kom met die wolke.”
Openbaring 1:7
In die Bybel hou wolke altyd met God verband. Wolke is daardie smarte of lydings of voorsienighede, binne of buite ons persoonlike lewe, wat skynbaar God se heerskappy betwis. Dit is juis deur daardie wolke dat die Gees van God ons leer hoe om deur geloof te wandel. As daar geen wolke was nie, sou ons geen geloof gehad het nie. "Die wolke is bloot die stof van ons Vader se voete." Die wolke is ’n teken dat Hy daar is. Wat ’n openbaring is dit om te weet dat smart en verlies en lyding die wolke is wat saam met God kom! God kan nie sonder wolke nader kom nie, Hy kom nie in helder skynsel nie.
Dit is nie waar om te sê dat God ons in ons beproewings iets wil leer nie: deur elke wolk wat Hy bring, wil Hy hê ons moet iets ontleer. Sy doel in die wolk is om ons geloof te vereenvoudig totdat ons verhouding tot Hom presies dié van ’n kind is — God en my eie siel, ander mense is skaduwees. Totdat ander mense skaduwees word, sal wolke en duisternis telkens myne wees. Word die verhouding tussen myself en God eenvoudiger as wat dit ooit was?
Daar is ’n verband tussen die vreemde voorsienighede van God en wat ons van Hom weet, en ons moet leer om die geheimenisse van die lewe in die lig van ons kennis van God te vertolk. Tensy ons die donkerste, swartste feit reguit in die gesig kan kyk sonder om God se karakter te beskadig, ken ons Hom nog nie.
"Hulle het gevrees toe hulle die wolk binnegegaan het . . ." — Is daar iemand "behalwe Jesus alleen" in u wolk? Indien wel, sal dit donkerder word; u moet by die plek kom waar daar "niemand meer is behalwe Jesus alleen nie."