NA GEHOORSAAMHEID — WAT?
“En dadelik het Hy Sy dissipels gedwing om in die skuit te klim, en na die oorkant te gaan....”
Markus 6:45-52
Ons is geneig om ons te verbeel dat as Jesus Christus ons dwing, en ons Hom gehoorsaam, Hy ons na groot sukses sal lei. Ons moet nooit ons drome van sukses as God se doel vir ons stel nie; Sy doel kan presies die teenoorgestelde wees. Ons het ’n idee dat God ons na ’n bepaalde doeleinde, ’n begeerde doel lei; Hy doen nie. Die vraag om by ’n bepaalde doeleinde uit te kom is bloot ’n bykomstigheid. Wat ons die proses noem, noem God die doeleinde.
Wat is my droom van God se doel? Sy doel is dat ek nou op Hom en op Sy mag staatmaak. As ek kalm en onverward te midde van die beroering kan bly, is dit die doeleinde van God se doel. God werk nie na ’n bepaalde afronding toe nie; Sy doeleinde is die proses — dat ek Hom op die golwe sien loop, geen kus in sig nie, geen sukses, geen doel, net die absolute sekerheid dat alles reg is omdat ek Hom op die see sien loop. Dit is die proses, nie die doeleinde nie, wat God verheerlik.
God se opleiding is vir nou, nie straks nie. Sy doel is vir hierdie minuut, nie vir iets in die toekoms nie. Ons het niks te doen met die daarna van gehoorsaamheid nie; ons loop verkeerd wanneer ons aan die daarna dink. Wat mense opleiding en voorbereiding noem, noem God die doeleinde.
God se doeleinde is om my in staat te stel om te sien dat Hy juis nou op die chaos van my lewe kan loop. As ons ’n verdere doeleinde in die oog het, gee ons nie voldoende aandag aan die onmiddellike hede nie: as ons besef dat gehoorsaamheid die doeleinde is, dan is elke oomblik soos dit kom kosbaar.