Daaglikse oordenking

DIE WEG OM TE WEET

As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet . . .

Johannes 7:17

Die goue reël vir geestelike begrip is nie intellek nie, maar gehoorsaamheid. As ’n mens wetenskaplike kennis wil hê, is intellektuele nuuskierigheid sy gids; maar as hy insig wil hê in wat Jesus Christus leer, kan hy dit slegs deur gehoorsaamheid kry. As dinge vir my donker is, kan ek seker wees daar is iets wat ek nie wil doen nie. Intellektuele duisternis kom deur onkunde; geestelike duisternis kom vanweë iets wat ek nie van voorneme is om te gehoorsaam nie.

Geen mens ontvang ooit ’n woord van God sonder om onmiddellik daaroor op die proef gestel te word nie. Ons is ongehoorsaam en wonder dan waarom ons nie geestelik voortgaan nie. 'As u by die altaar kom,' het Jesus gesê, 'en u daar onthou dat u broer iets teen u het . . . moenie nog ’n woord vir My sê nie, maar gaan maak eers daardie ding reg.' Die leer van Jesus tref ons waar ons leef. Ons kan nie vir een sekonde as bedrieërs voor Hom staan nie. Hy onderrig ons tot in die kleinste gewetensbeswaar. Die Gees van God grawe die gees van selfregverdiging uit; Hy maak ons gevoelig vir dinge waaraan ons nooit voorheen gedink het nie.

Wanneer Jesus ’n ding deur Sy Woord tuisbring, moet u dit nie ontduik nie. As u dit doen, sal u ’n godsdienstige bedrieër word. Let op die dinge waaroor u u skouers optrek, en u sal weet waarom u nie geestelik voortgaan nie. Gaan eers — met die gevaar dat mense u fanaties sal dink moet u gehoorsaam wat God vir u sê.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in