HEILIGMAKING
“Dit is die wil van God, naamlik julle heiligmaking.”
1 Tessalonisense 4:3
Die doodskant.
In heiligmaking moet God met ons aan die doodskant sowel as aan die lewenskant handel. Baie van ons bring soveel tyd in die plek van die dood deur dat ons grafagtig word. Daar is altyd ’n koninklike geveg vóór heiligmaking, altyd iets wat met wrewel teen die eise van Jesus Christus trek. Sodra die Gees van God aan ons begin toon wat heiligmaking beteken, begin die stryd. "As iemand na My toe kom en nie . . sy eie lewe haat nie, kan hy My dissipel nie wees nie."
Die Gees van God sal my in die proses van heiligmaking stroop totdat ek niks anders is nie as "myself," dit is die plek van die dood. Is ek gewillig om te wees "myself," en niks meer nie — geen vriende, geen vader, geen broer, geen eiebelang nie — eenvoudig gereed vir die dood? Dit is die voorwaarde van heiligmaking. Geen wonder dat Jesus gesê het: "Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar ’n swaard." Dit is waar die geveg kom, en waar so baie van ons beswyk. Ons weier om ons op hierdie punt met die dood van Jesus te vereenselwig. "Maar dit is so streng," sê ons; "Hy kan nie wil hê ek moet dit doen nie." Ons Here is streng; en Hy wil inderdaad hê ons moet dit doen.
Is ek gewillig om myself eenvoudig te verminder tot "my," om myself vasbeslote te stroop van alles wat my vriende van my dink, van alles wat ek van myself dink, en om daardie eenvoudige naakte self aan God te oorhandig? Sodra ek dit is, sal Hy my geheel en al heilig, en my lewe sal vry wees van erns in verband met alles behalwe God.
Wanneer ek bid — "Here, wys my wat heiligmaking vir my beteken," sal Hy my wys. Dit beteken om een met Jesus gemaak te word. Heiligmaking is nie iets wat Jesus Christus in my plaas nie: dit is Hyself in my. (1 Kor. 1:30.)