DIE POORT NA DIE KONINKRYK
“Salig is die armes van gees.”
Matteus 5:3
Waak daarteen om Ons Here in die eerste plek as ’n Leraar te stel. As Jesus Christus slegs ’n Leraar is, kan Hy my alleen terg deur ’n maatstaf op te rig wat ek nie kan bereik nie. Watter nut het dit om ’n ideaal aan my voor te hou waarby ek onmoontlik naby kan kom? Ek is gelukkiger sonder om dit te ken. Watter nut het dit om vir my te sê om te wees wat ek nooit kan wees nie — om rein van hart te wees, om meer as my plig te doen, om volmaak aan God toegewy te wees? Ek moet Jesus Christus as Verlosser ken voordat Sy leer vir my enige ander betekenis het as dié van ’n ideaal wat tot wanhoop lei. Maar wanneer ek uit die Gees van God wedergebore is, weet ek dat Jesus Christus nie gekom het om slegs te leer nie: Hy het gekom om my te maak wat Hy leer ek behoort te wees. Die Verlossing beteken dat Jesus Christus in enige mens die aard kan plaas wat Sy eie lewe beheers het, en al die maatstawwe wat God gee is op daardie aard gegrond.
Die leer van die Bergrede bring wanhoop voort in die natuurlike mens — presies wat Jesus bedoel dat dit moet doen. Solank ons ’n eiegeregtige, verwaande begrip het dat ons Ons Here se leer kan uitvoer, sal God ons toelaat om voort te gaan totdat ons ons onkunde teen die een of ander struikelblok breek, dan is ons gewillig om as berooides na Hom te kom en van Hom te ontvang. "Salig is die berooides van gees," dit is die eerste beginsel in die Koninkryk van God. Die rotsbodem in Jesus Christus se koninkryk is armoede, nie besit nie; nie beslissings vir Jesus Christus nie, maar ’n besef van absolute vergeefsheid — ek kan nie eers begin om dit te doen nie. Dan sê Jesus — Salig is u. Dit is die ingang, en dit neem ons inderdaad ’n lang tyd om te glo dat ons arm is! Die kennis van ons eie armoede bring ons by die morele grens waar Jesus Christus werk.