Daaglikse oordenking

HEERSKAPPY OOR DIE GELOWIGE

Julle noem My Meester en Here: en julle sê tereg; want Ek is dit.

Johannes 13:13

Ons Here dring nooit daarop aan om gesag te hê nie; Hy sê nooit — Jy sal. Hy laat ons volkome vry — so vry dat ons in Sy gesig kan spoeg, soos mense gedoen het; so vry dat ons Hom kan doodmaak, soos mense gedoen het; en Hy sal nooit ’n woord sê nie. Maar ek erken onmiddellik Sy reg op absolute gesag oor my wanneer Sy lewe deur Sy Verlossing in my geskep is. Dit is ’n morele oorheersing — "U is waardig . . ." Dit is slegs die onwaardige in my wat weier om voor die Waardige neer te buig. As ek wanneer ek ’n mens ontmoet wat heiliger as ekself is, nie sy waardigheid erken en gehoorsaam wat deur hom kom nie, is dit ’n openbaring van die onwaardige in my. God onderrig ons deur middel van mense wat ’n bietjie beter as ons is, nie verstandelik nie maar "heiliglik," totdat ons onder die oorheersing van die Here Self kom, en dan is die hele houding van die lewe een van gehoorsaamheid aan Hom.

As Ons Here op gehoorsaamheid aangedring het, sou Hy ’n slawedrywer word en sou Hy ophou om enige gesag te hê. Hy dring nooit op gehoorsaamheid aan nie, maar wanneer ons Hom wel sien, gehoorsaam ons Hom onmiddellik as die Een wat sonder moeite Here is, en ons leef van die môre tot die aand in aanbidding van Hom. Die openbaring van my groei in genade is die wyse waarop ek gehoorsaamheid beskou. Ons moet die woord "gehoorsaamheid" uit die modder red. Gehoorsaamheid is slegs tussen gelykes moontlik; dit is die verhouding tussen vader en seun, nie tussen meester en dienaar nie. "Ek en My Vader is een." "Hoewel Hy ’n Seun was, het Hy tog gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het." Die Seun se gehoorsaamheid was as Verlosser, omdat Hy Seun was, nie om Seun te word nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in