DIE BEGRIP VAN GODDELIKE BEHEER
“Hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is goeie dinge gee aan dié wat Hom vra?”
Matteus 7:11
Jesus lê gedragsreëls neer vir dié wat Sy Gees het. Deur die eenvoudige redenasie van hierdie verse dring Hy by ons daarop aan om ons denke gevul te hou met die begrip van God se beheer agter alles, wat beteken dat die dissipel ’n houding van volmaakte vertroue en ’n gretigheid om te vra en te soek moet handhaaf.
Vorm u denke na die idee dat God daar is. As die denke eenmaal langs daardie lyn gevorm is, dan is dit wanneer u in moeilikhede is so maklik soos asemhaal om te onthou — Maar, my Vader weet alles daarvan! Dit is nie ’n inspanning nie, dit kom vanself wanneer verwarring druk. Voorheen, het u na hierdie persoon en daardie een gegaan, maar nou word die begrip van die Goddelike beheer so kragtig in u gevorm dat u daarmee na God gaan. Jesus lê die gedragsreëls neer vir dié wat Sy Gees het, en dit werk volgens hierdie beginsel — God is my Vader, Hy het my lief, ek sal nooit aan enigiets dink wat Hy sal vergeet nie, waarom sou ek my bekommer?
Daar is tye, sê Jesus, wanneer God die duisternis nie van u kan lig nie, maar vertrou Hom. God sal soos ’n onvriendelike vriend voorkom, maar Hy is nie; Hy sal soos ’n onnatuurlike Vader voorkom, maar Hy is nie; Hy sal soos ’n onregverdige regter voorkom, maar Hy is nie. Hou die begrip van God se denke agter alle dinge sterk en groeiend. Niks gebeur in enige bepaalde opsig tensy God se wil daaragter is nie, daarom kan u in volmaakte vertroue op Hom rus. Gebed is nie net vra nie, maar ’n houding van die denke wat die atmosfeer voortbring waarin vra heeltemal natuurlik is. "Vra, en aan julle sal gegee word."