Daaglikse oordenking

DIE PUNT VAN GEESTELIKE EER

Ek staan in die skuld by Grieke, sowel as barbare.

Romeine 1:14

Paulus is oorweldig deur die besef van sy verskuldigdheid aan Jesus Christus, en hy het homself bestee om dit tot uitdrukking te bring. Die groot inspirasie in Paulus se lewe was sy beskouing van Jesus Christus as sy geestelike skuldeiser. Voel ek daardie besef van verskuldigdheid aan Christus ten opsigte van elke ongeredde siel? Die geestelike eer van my lewe as ’n heilige is om my skuld aan Christus met betrekking tot hulle te vereffen. Elke deeltjie van my lewe wat waarde het is ek aan die Verlossing van Jesus Christus verskuldig; doen ek enigiets om Hom in staat te stel om Sy Verlossing in ander lewens tot daadwerklike openbaring te bring? Ek kan dit alleen doen namate die Gees van God hierdie besef van verskuldigdheid in my bewerk.

Ek moet nie ’n verhewe persoon onder mense wees nie, maar ’n gebondeslaaf van die Here Jesus. "Julle behoort nie aan julleself nie." Paulus het homself aan Jesus Christus verkoop. Hy sê — Ek staan by elkeen op die aangesig van die aarde in die skuld vanweë die Evangelie van Jesus; ek is slegs vry om ’n volstrekte slaaf te wees. Dit is die kenmerk van die lewe wanneer hierdie punt van geestelike eer eenmaal verwesenlik is. Hou op om oor uself te bid en word vir ander bestee as die gebondeslaaf van Jesus. Dit is wat dit beteken om in werklikheid gebreekte brood en uitgestorte wyn gemaak te word.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in