Daaglikse oordenking

DIE REKENING MET VERVOLGING

Maar Ek sê vir julle, dat julle die kwaad nie moet weerstaan nie; maar elkeen wat jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.

Matteus 5:39, ens

Hierdie verse openbaar die vernedering daarvan om ’n Christen te wees. Natuurlik, as ’n mens nie terugslaan nie, is dit omdat hy ’n lafaard is; maar as ’n mens geestelik nie terugslaan nie, is dit ’n openbaring van die Seun van God in hom. Wanneer u beledig word, moet u u nie alleen daarvan weerhou om dit kwalik te neem nie, maar dit ’n geleentheid maak om die Seun van God te vertoon. U kan nie die aard van Jesus naboots nie; dit is óf daar óf dit is nie. Vir die heilige word persoonlike belediging die geleentheid om die ongelooflike lieflikheid van die Here Jesus te openbaar.

Die leer van die Bergrede is nie — Doen u plig nie, maar — Doen wat nie u plig is nie. Dit is nie u plig om die tweede myl te loop, om die ander wang te draai nie, maar Jesus sê dat ons as ons Sy dissipels is altyd hierdie dinge sal doen. Daar sal geen gees wees van — "Nou, ja, ek kan niks meer doen nie, ek is so verkeerd voorgestel en misverstaan." Elke keer wanneer ek op my regte aandring, maak ek die Seun van God seer; daarenteen kan ek voorkom dat Jesus seergemaak word as ek self die hou neem. Dit is die betekenis daarvan om aan te vul wat aan die verdrukkinge van Christus ontbreek. Die dissipel besef dat dit sy Here se eer is wat in sy lewe op die spel is, nie sy eie eer nie.

Moet nooit na reg in die ander mens soek nie, maar hou nooit op om self reg te wees nie. Ons soek altyd na geregtigheid; die leer van die Bergrede is — Moet nooit na geregtigheid soek nie, maar hou nooit op om dit te gee nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in