DIE GEESTELIKE LUIAARD
“Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons nie ons onderlinge byeenkoms versuim nie.”
Hebreërs 10:24-25
Ons is almal daartoe in staat om geestelike luiaards te wees; ons wil ons nie meng in die ruwe gewoel van die lewe soos dit is nie, ons enigste doel is om afsondering te verkry. Die toon wat in Hebreërs 10 aangeslaan word is dié van mekaar aanspoor en bymekaar bly — albei vereis inisiatief, die inisiatief van Christusverwesenliking, nie van selfverwesenliking nie. Om ’n afgeleë, teruggetrokke, afgesonderde lewe te lei is die teenpool van geestelikheid soos Jesus Christus dit geleer het.
Die toets van ons geestelikheid kom wanneer ons teen onreg en gemeenheid en ondankbaarheid en beroering te staan kom, wat almal die neiging het om ons geestelike luiaards te maak. Ons wil gebed en Bybellees met die oog op afsondering gebruik. Ons benut God ter wille daarvan om vrede en vreugde te kry, dit wil sê, ons wil nie Jesus Christus verwesenlik nie, maar slegs ons genieting van Hom. Dit is die eerste stap in die verkeerde rigting. Al hierdie dinge is gevolge en ons probeer hulle oorsake maak.
"Ek ag dit gepas," het Petrus gesê, ". . . om julle op te wek deur julle daaraan te herinner." Dit is uiters ontstellend om deur die een of ander aanspoorder van God in die ribbes geslaan te word, deur iemand wat vol geestelike aktiwiteit is. Aktiewe werk en geestelike aktiwiteit is nie dieselfde ding nie. Aktiewe werk kan die namaaksel van geestelike aktiwiteit wees. Die gevaar van geestelike traagheid is dat ons nie opgewek wil word nie, al wat ons wil hoor is geestelike afsondering. Jesus Christus moedig nooit die idee van afsondering aan nie — "Gaan vertel My broeders . ."