DIE WIL TOT LOJALITEIT
“Kies vandag vir julle wie julle wil dien.”
Josua 24:15
Die wil is die hele mens in werking. Ek kan nie my wil prysgee nie, ek moet dit uitoefen. Ek moet wil om gehoorsaam te wees, en ek moet wil om God se Gees te ontvang. Wanneer God ’n visioen van die waarheid gee gaan dit nooit om wat Hy sal doen nie, maar om wat ons sal doen. Die Here het ’n paar groot voorstelle voor ons almal gelê, en die beste ding om te doen is om te onthou wat u gedoen het toe God u voorheen aangeraak het — die tyd toe u gered is, of Jesus die eerste keer gesien het, of die een of ander waarheid besef het. Dit was toe maklik om trou aan God te betuig; roep daardie oomblikke nou in herinnering wanneer die Gees van God die een of ander nuwe voorstel aan u voorlê.
"Kies vandag vir julle wie julle wil dien." Dit is ’n doelbewuste berekening, nie iets waarin u maklik indryf nie; en alles anders bly hangende totdat u besluit. Die voorstel is tussen u en God; moenie vlees en bloed daaroor raadpleeg nie. Met elke nuwe voorstel raak ander mense al hoe meer "daarbuite," dit is waar die spanning ontstaan. God laat toe dat die mening van Sy heiliges vir u saak maak, en tog word u al hoe verder gebring van die sekerheid dat ander die stap verstaan wat u neem. Dit is nie u saak om uit te vind waarheen God lei nie, die enigste ding wat God aan u sal verduidelik is Homself.
Bely teenoor Hom — 'Ek sal lojaal wees.' Sodra u kies om lojaal aan Jesus Christus te wees, is u ’n getuie teen uself. Moenie ander Christene raadpleeg nie, maar bely voor Hom — Ek sal U dien. Wil om lojaal te wees — en gee ander mense die erkenning dat hulle ook lojaal is.