Daaglikse oordenking

ALLE EDELE DINGE IS MOEILIK

Gaan in deur die nou poort . . omdat die poort nou, en die weg smal is . . .

Matteus 7:13-14

As ons as dissipels van Jesus gaan leef, moet ons onthou dat alle edele dinge moeilik is. Die Christelike lewe is heerlik moeilik, maar die moeilikheid daarvan laat ons nie beswyk en ineenstort nie, dit wek ons op om te oorwin. Waardeer ons die wonderbare redding van Jesus Christus só dat ons ons uiterste vir Sy hoogste is?

God red mense deur Sy soewereine genade deur die Versoening van Jesus; Hy werk in ons om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae; maar ons moet daardie redding in praktiese lewe uitwerk. As ons eenmaal op grondslag van Sy Verlossing begin doen wat Hy beveel, ontdek ons dat ons dit kan doen. As ons misluk, is dit omdat ons nie geoefen het nie. Die krisis sal openbaar of ons geoefen het of nie. As ons die Gees van God gehoorsaam en in ons liggaamlike lewe beoefen wat God deur Sy Gees in ons geplaas het, dan sal ons wanneer die krisis kom, ontdek dat ons eie natuur sowel as die genade van God ons sal bystaan.

Dank God dat Hy ons wel moeilike dinge gee om te doen! Sy redding is ’n vreugdevolle ding, maar dit is ook ’n heldhaftige, heilige ding. Dit beproef ons vir alles wat ons werd is. Jesus bring baie "seuns" tot heerlikheid, en God sal ons nie teen die vereistes van ’n seun beskerm nie. God se genade lewer mans en vroue met ’n sterk familietrek na Jesus Christus op, nie papkinders nie. Dit verg ’n geweldige hoeveelheid dissipline om die edele lewe van ’n dissipel van Jesus in daadwerklike dinge te leef. Dit is altyd nodig om ’n poging aan te wend om edel te wees.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in