Daaglikse oordenking

VISIOEN EN WERKLIKHEID

En die dor grond sal ’n waterplas word.

Jesaja 35:7

Ons het altyd visioene, voordat iets werklik gemaak word. Wanneer ons besef dat die visioen wel werklik is, maar nie werklik in ons is nie, dán kom Satan met sy versoekings in, en ons is geneig om te sê dat dit geen nut het om voort te gaan nie. In plaas daarvan dat die visioen werklik word, het die vallei van vernedering gekom.

"Die lewe is nie soos nuttelose erts nie, maar yster uit sentrale duisternis gegrawe, en deur die skokke van die noodlot gebeuk tot vorm en gebruik." God gee ons die visioen, dan neem Hy ons af na die vallei om ons tot die vorm van die visioen te beuk, en dit is in die vallei dat so baie van ons beswyk en ingee. Elke visioen sal werklik gemaak word as ons geduld wil hê. Dink aan God se ontsaglike tydsruimte! Hy is nooit haastig nie. Ons is altyd so koorsagtig haastig. In die lig van die heerlikheid van die visioen gaan ons uit om dinge te doen, maar die visioen is nog nie werklik in ons nie; en God moet ons die vallei inneem, en ons deur vure en vloede voer om ons in vorm te beuk, totdat ons op die plek kom waar Hy ons met die ware werklikheid kan vertrou. Vandat ons die visioen gekry het, is God aan die werk om ons in die vorm van die ideaal te kry, en oor en oor ontsnap ons uit Sy hand en probeer ons onsself tot ons eie vorm beuk.

Die visioen is nie ’n lugkasteel nie, maar ’n visioen van wat God wil hê u moet wees. Laat Hom u op Sy wiel sit en u draai soos Hy wil, en so seker as God God is en u u is, sal u presies ooreenkomstig die visioen uitkom. Moenie in die proses moed verloor nie. As u ooit die visioen van God gehad het, kan u na hartelus probeer om op ’n laer vlak tevrede te wees, maar God sal u nooit toelaat nie.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in