DIE VOORWAARDES VAN DISSIPELSKAP
“As iemand na My toe kom, en nie haat nie . . . kan hy My dissipel nie wees nie.”
Lukas 14:26, ook 27, 33
As die intiemste verhoudings van die lewe bots met die aansprake van Jesus Christus, sê Hy dat daar onmiddellike gehoorsaamheid aan Homself moet wees. Dissipelskap beteken persoonlike, hartstogtelike toewyding aan ’n Persoon, Ons Here Jesus Christus. Daar is ’n verskil tussen toewyding aan ’n Persoon en toewyding aan beginsels of aan ’n saak. Ons Here het nooit ’n saak verkondig nie; Hy het persoonlike toewyding aan Homself verkondig. Om ’n dissipel te wees is om ’n toegewyde liefdeslaaf van die Here Jesus te wees. Baie van ons wat onsself Christene noem is nie aan Jesus Christus toegewy nie. Geen mens op aarde het hierdie hartstogtelike liefde vir die Here Jesus tensy die Heilige Gees dit aan hom toebedeel het nie. Ons mag Hom bewonder, ons mag Hom respekteer en eerbiedig, maar ons kan Hom nie liefhê nie. Die enigste Minnaar van die Here Jesus is die Heilige Gees, en Hy stort juis die liefde van God in ons harte uit. Wanneer die Heilige Gees ook al ’n geleentheid sien om Jesus te verheerlik, sal Hy u hart, u senuwees, u hele persoonlikheid, neem en u eenvoudig laat vlam en gloei van toewyding aan Jesus Christus.
Die Christelike lewe dra die stempel van 'morele spontane oorspronklikheid,' gevolglik staan die dissipel oop vir dieselfde aanklag as Jesus Christus, nl., dié van inkonsekwentheid. Maar Jesus Christus was altyd konsekwent teenoor God, en die Christen moet konsekwent wees teenoor die lewe van die Seun van God in hom, nie konsekwent teenoor vaste en onwrikbare geloofsoortuigings en geloofsbelydenisse nie. Mense giet hulself in geloofsoortuigings en geloofsbelydenisse, en God moet hulle uit hulle vooroordele uitblaas voordat hulle aan Jesus Christus toegewy kan word.