Daaglikse oordenking

DIE ONVERMYDELIKE STRAF

Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom, voordat jy die laaste oortjie betaal het nie.

Matteus 5:26

Daar is geen hemel met ’n klein hoekie van die hel daarin nie. God is vasbeslote om u rein en heilig en reg te maak; Hy sal u nie toelaat om vir een oomblik aan die noulettende ondersoek van die Heilige Gees te ontkom nie. Hy het u aangespoor om dadelik tot die oordeel te kom toe Hy u oortuig het, maar u het nie; die onvermydelike proses het begin werk en nou is u in die gevangenis, en u sal eers uitkom wanneer u die laaste oortjie betaal het. "Is dit ’n God van barmhartigheid, en van liefde?" sê u. Van God se kant gesien, is dit ’n heerlike bediening van liefde. God gaan u rein en vlekkeloos en onbesmet uitbring; maar Hy wil hê u moet die aard erken wat u getoon het — die aard van u reg op uself. Die oomblik wanneer u gewillig is dat God u aard verander, sal Sy herskeppende kragte begin werk. Die oomblik wanneer u God se doel besef, naamlik om u in die regte verhouding tot Homself en daarna tot u medemens te bring, sal Hy die verste grens van die heelal belas om u te help om die regte weg in te slaan. Besluit dit nou — "Ja, Here, ek sal vanaand daardie brief skryf"; "Ek sal my nou met daardie man versoen."

Hierdie boodskappe van Jesus Christus is vir die wil en die gewete, nie vir die verstand nie. As u met u verstand oor die Bergrede redeneer, sal u die beroep op u hart stomp maak.

"Ek wonder waarom ek nie met God voortgaan nie?" Betaal u u skulde vanuit God se standpunt? Doen nou wat u eendag sal moet doen. Agter elke morele roep staan ’n "behoort".

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in