DOEN DIT NOU
“Stem gou met u teenstander ooreen.”
Matteus 5:25
Jesus Christus lê hierdie beginsel neer — Doen wat u weet u moet doen, nou, en doen dit gou; as u dit nie doen nie, sal die onvermydelike proses begin werk en sal u tot die laaste duit in pyn en smart en benoudheid moet betaal. God se wette is onveranderlik; daar is geen ontkoming daaraan nie. Die leer van Jesus gaan reguit na die wyse waarop ons saamgestel is.
Om toe te sien dat my teenstander my my regte gee is natuurlik; maar Jesus sê dat dit vir my 'n saak van ewige en gebiedende belang is dat ek my teenstander betaal wat ek hom skuld. Uit ons Here se standpunt maak dit nie saak of ek bedrieg word of nie; wat wel saak maak is dat ek nie bedrieg nie. Dring ek op my regte aan, of betaal ek wat ek skuld uit Jesus Christus se standpunt?
Doen die ding gou, bring uself nou tot oordeel. In sedelike en geestelike sake, moet u dit onmiddellik doen; as u dit nie doen nie, sal die onverbiddelike proses begin werk. God is vasbeslote om Sy kind so rein en skoon en wit soos opgejaagde sneeu te hê, en solank daar ongehoorsaamheid op enige punt van Sy leer is, sal Hy niks van die werking van Sy Gees verhinder nie. Ons aandrang om te bewys dat ons reg is is byna altyd 'n aanduiding dat daar die een of ander punt van ongehoorsaamheid was. Geen wonder dat die Gees so sterk aandring om standvastig in die lig te bly nie!
"Stem gou met u teenstander ooreen." Het u skielik 'n hoek in enige verhouding omgedraai en ontdek dat u woede in u hart gehad het? Bely dit gou, stel dit gou voor God reg, raak met daardie een versoen — doen dit nou.