DIE ONAFWYKENDE TOETS
“Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”
Matteus 7:2
Hierdie uitspraak is nie 'n lukrake raaiskoot nie, dit is 'n ewige wet van God. Watter oordeel u ook al gee, word weer vir u gemeet. Daar is 'n verskil tussen weerwraak en vergelding. Jesus sê dat die grondslag van die lewe vergelding is — "met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word." As u skerpsinnig was om die gebreke in ander uit te vind, onthou dat dit presies die maat sal wees wat aan u gegee word. Die lewe bedien terug in die munt waarmee u betaal. Hierdie wet werk van God se troon af ondertoe (vgl. Psalm 18:25-26).
Romeine 2 pas dit op 'n nog meer bepaalde manier toe en sê dat die een wat 'n ander kritiseer, aan presies dieselfde ding skuldig is. God kyk nie slegs na die daad nie, Hy kyk na die moontlikheid. Aanvanklik glo ons nie die uitsprake van die Bybel nie. Byvoorbeeld, glo ons hierdie uitspraak, dat ons self skuldig is aan die dinge wat ons in ander kritiseer? Die rede waarom ons skynheiligheid en bedrog en onwerklikheid in ander sien is omdat hulle almal in ons eie harte is. Die groot kenmerk van 'n heilige is nederigheid — Ja, al daardie dinge en ander euwels sou in my geopenbaar gewees het as dit nie vir die genade van God was nie, daarom het ek geen reg om te oordeel nie.
Jesus sê — "Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie" as u wel oordeel, sal dit vir u presies gemeet word soos u geoordeel het. Wie van ons sou dit waag om voor God te staan en te sê — "My God, oordeel my soos ek my medemense geoordeel het?" Ons het ons medemense as sondaars geoordeel; as God ons so sou oordeel sou ons in die hel wees. God oordeel ons deur die wonderlike Versoening van Jesus Christus.