WAT MAAK U HIERVAN?
“Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriend aflê." . . . "Ek het julle vriende genoem.”
Johannes 15:13, 15
Jesus vra my nie om vir Hom te sterf nie, maar om my lewe vir Hom af te lê. Petrus het gesê — "Ek sal my lewe ter wille van U aflê" en hy het dit bedoel; sy besef van die heldhaftige was manjifiek. Dit sou 'n slegte ding wees om nie in staat te wees om so 'n verklaring te maak soos Petrus gemaak het nie; die besef van ons plig word slegs deur ons besef van die heldhaftige verwesenlik. Het die Here u ooit gevra — "Sal u u lewe ter wille van My aflê?" Dit is baie makliker om te sterf as om die lewe dag in en dag uit af te lê met die besef van die hoë roeping. Ons is nie vir skitterende oomblikke gemaak nie, maar ons moet in gewone weë in die lig daarvan wandel. Daar was slegs een skitterende oomblik in die lewe van Jesus, en dit was op die Berg van Gedaanteverandering; toe het Hy Homself 'n tweede keer van Sy heerlikheid ontledig, en in die demoonbesete vallei afgekom. Drie-en-dertig jaar lank het Jesus Sy lewe uitgelê om die wil van Sy Vader te doen, en, sê Johannes, "ons behoort ons lewens vir die broeders af te lê." Dit is teenstrydig met die menslike natuur om dit te doen.
As ek 'n vriend van Jesus is, moet ek doelbewus en sorgvuldig my lewe vir Hom aflê. Dit is moeilik, en dank God dit is moeilik. Redding is maklik omdat dit God so veel gekos het, maar die openbaring daarvan in my lewe is moeilik. God red 'n mens en beklee hom met die Heilige Gees, en sê dan in werklikheid — "Werk dit nou uit, wees lojaal aan My, terwyl die natuur van die dinge rondom u u dislojaal sou maak." "Ek het julle vriende genoem." Staan lojaal aan u Vriend, en onthou dat Sy eer in u liggaamlike lewe op die spel is.