DIE VOLGENDE BESTE DING OM TE DOEN
“Soek, en julle sal vind.”
Lukas 11:9
"Julle vra, en ontvang nie, omdat julle verkeerd vra." As u dinge van die lewe vra in plaas van van God, vra u verkeerd, d.w.s., u vra uit 'n begeerte na selfverwesenliking. Hoe meer u uself verwesenlik hoe minder sal u God soek. "Soek, en julle sal vind." Gaan aan die werk, vernou u belange tot hierdie een. Het u God ooit met u hele hart gesoek, of het u slegs 'n lome uitroep tot Hom gerig ná 'n steek van sedelike senuweepyn? Soek, konsentreer, en u sal vind.
"Ho, elkeen wat dors het, kom na die waters." Is u dors, of selftevrede onverskillig — so tevrede met u ervaring dat u niks meer van God wil hê nie? Ervaring is 'n poort, nie 'n eindpunt nie. Waak daarteen om u geloof op ervaring te bou, die metaalagtige toon sal onmiddellik inkom, die veroordelende toon. U kan nooit aan 'n ander persoon gee wat u gevind het nie, maar u kan hom laat heimwee kry na wat u het.
"Klop, en vir julle sal oopgemaak word." "Nader tot God." Klop — die deur is toe, en u ly aan hartklopping terwyl u klop. "Reinig julle hande" — klop 'n bietjie harder, u begin ontdek dat u vuil is. "Suiwer julle hart" — dit is nog persoonliker, u is nou desperaat ernstig — u sal enigiets doen. "Wees bedroef" — was u ooit voor God bedroef oor die toestand van u innerlike lewe? Daar is geen draad van selfbejammering oor nie, maar 'n hartbrekende droefheid van verbasing om te ontdek dat u die soort mens is wat u is. "Maak uself nederig" — dit is 'n nederigmakende saak om aan God se deur te klop — u moet saam met die gekruisigde dief klop. "Vir hom wat klop, sal oopgemaak word."