Daaglikse oordenking

DIE VOLGENDE BESTE DING OM TE DOEN

Want elkeen wat vra ontvang.

Lukas 11:10

Daar is niks moeiliker as om te vra nie. Ons sal verlang en begeer en hunker en ly, maar eers wanneer ons by die uiterste grens is sal ons vra. 'n Besef van onwerklikheid laat ons vra. Het u ooit uit die dieptes van sedelike armoede gevra? "As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God vra . . . maar wees seker dat u wel wysheid kortkom. U kan uself nie teen die Werkelikheid bring wanneer u wil nie. Die volgende beste ding om te doen as u geestelik nie werklik is nie, is om God op die woord van Jesus Christus vir die Heilige Gees te vra (sien Lukas 11:13). Die Heilige Gees is die Een wat alles wat Jesus vir u gedoen het in u werklik maak.

"Want elkeen wat vra ontvang." Dit beteken nie dat u nie sal kry as u nie vra nie (vgl. Matteus 5:45), maar totdat u by die punt kom om te vra sal u nie van God ontvang nie. Om te ontvang beteken dat u in die verhouding van 'n kind van God gekom het, en nou besef u met intelligente en sedelike waardering en geestelike begrip dat hierdie dinge van God kom.

"As iemand van julle wysheid kortkom . . ." As u besef dat u tekortskiet, is dit omdat u met geestelike werklikheid in aanraking gekom het; moenie weer die oogklappe van die rede aansit nie. Mense sê — Verkondig vir ons die eenvoudige evangelie: moenie vir ons sê dat ons heilig moet wees nie, want dit bring 'n besef van erbarmelike armoede voort, en dit is nie aangenaam om erbarmelik arm te voel nie. "Vra" beteken bedel. Sommige mense is arm genoeg om in hulle armoede belang te stel, en sommige van ons is geestelik so. Ons sal nooit ontvang as ons met 'n doel voor oë vra nie; as ons vra, nie uit ons armoede nie maar uit ons begeerlikheid. 'n Berooide vra om geen ander rede as die erbarmelike pynigende toestand van sy armoede nie, hy skaam hom nie om te bedel nie. — Salig is die berooides van gees.

Terug na die kalender

Begin elke dag met stiltetyd wat op Christus gerig is.

Teken in