MOENIE VERSLAP NIE
“Wat julle ook al in My Naam vra, dit sal Ek doen.”
Johannes 14:13
Vervul ek hierdie bediening van die innerlike? Daar is geen strik of enige gevaar van beheptheid of trots in voorbidding nie, dit is 'n verborge bediening wat vrug voortbring waardeur die Vader verheerlik word. Laat ek toe dat my geestelike lewe wegverkwis word, of bring ek dit alles na een middelpunt — die Versoening van my Here? Oorheers Jesus Christus elke belang in my lewe al hoe meer? As die een sentrale punt, die groot kraguitoefenende invloed in my lewe die Versoening van die Here is, dan sal elke fase van my lewe vir Hom vrug dra.
Ek moet tyd neem om te besef wat die sentrale punt van krag is. Gee ek een minuut uit sestig om daarop te konsentreer? "As julle in My bly" — hou aan om vanuit daardie middelpunt te handel en te dink en te werk — "sal julle vra wat julle wil, en dit sal vir julle gedoen word." Bly ek? Neem ek tyd om te bly? Wat is die grootste kragfaktor in my lewe? Is dit werk, diens, opoffering vir ander, of om te probeer om vir God te werk? Die ding wat die grootste krag in my lewe behoort uit te oefen is die Versoening van die Here. Dit is nie die ding waaraan ons die meeste tyd bestee wat ons die meeste vorm nie; die grootste element is die ding wat die meeste krag uitoefen. Ons moet besluit om beperk te word en ons verwantskappe te konsentreer.
"Wat julle ook al in My Naam vra, dit sal Ek doen." Die dissipel wat in Jesus bly is die wil van God, en sy skynbaar vrye keuses is God se voorafverordende besluite. Geheimsinnig? Logies teenstrydig en absurd? Ja, maar 'n heerlike waarheid vir 'n heilige.